DIE RETIEFKLIP
Vanaf 19 Oktober 1837 het Piet Retief se trekgeselskap stuksgewys met die Oliviershoekpas die Drakensberg begin uittrek. Die trekgeselskap het links van die Oudebergspruit teen die berghelling uitgetrek totdat hulle hoog teen die berg 'n fontein bereik het, naby die huidige Retiefklip, waar hulle uitgespan het. Erasmus Smit het die rant Kerkenberg genoem omdat dit hom aan 'n kerk of 'n plek van godsdienstige byeenkomste herinner het. Piet Retief het gedurende dié tyd sy eerste besoek aan koning Dingane afgelê, om oor die moontlikheid om grond vir die Voortrekkers te bekom, te onderhandel. Op sy 57ste verjaarsdag (12 November 1837) het sy dogter, Debora Retief, haar vader se naam en die datum hier op 'n oorhangende rots met groen verf geskryf. Die ander name wat op dié rots aangetref kan word, is dié van die Bethlehemse kommando wat op 10 Oktober 1899, met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog, die Oliviershoekpas beset het.
Ongeveer 30 km suid van Harrismith, oor die steil Oliviershoekpas by Kerkenberg, is die Retiefklip op 'n klein plato reg onder 'n rotsstapel te sien. Die groen geverfde woorde op die Retiefklip kan vandag nog besigtig word, omdat dit deur 'n glaskas wat later aangebring is, teen wind en weer beskerm word. Met die 1937-Eeufeesviering is 'n gedenkplaat deur mev. J.C. Preller ('n kleindogter van Debora Retief) onthul en in 1986 is die Engelse weergawe van die plaat deur studente van die Pretoria Technikon geskenk.
 |
 |
Die Retief-trekgeselskap het tot met 13 November 1837 by Kerkenberg vertoef en toe reg oos getrek tot op die rand van die Drakensberge waar die goeie nuus van Retief se voorspoedige onderhandelinge met Dingane hulle bereik het. Die plek is Blijde Vooruitzicht genoem. Op 14 November 1837 het hulle daarvandaan met die kort, steil Retiefpas die berg af getrek tot in KwaZulu-Natal. Die Retiefpas is in 1977 tot 'n Nasionale Monument verklaar en die 8 km-roete tot by Sandspruit onder aan die voet van die Drakensberg is met witgekalkte klippe afgebaken. Sommige van die rotse in die omgewing toon selfs nog ossewaspoormerke.
Die Voortrekker-beweging van die Oranje-Vrystaat het 'n lewensgrootte beeld van 'n kaalvoetvrou naby die Retiefpas laat oprig, om die moed en deursettingsvermoë van die Voortrekkervrouens uit te beeld. Die beeld gedenk 'n spesifieke voorval toe Susanna Smit, die vrou van eerw. Erasmus Smit en suster van Gerrit Maritz, na die anneksasie van Natal in 1842, gesê het: "Ons loop liewer kaalvoet terug oor die Drakensberg as om onder Britse juk te buig". Die Kaalvoetvrou-standbeeld is deur Alfonso Smuts geskep en op 10 Oktober 1977 deur mnr. Fanie Maree, toe die eienaar van die plaas, onthul. Die beeld staan ongeveer 60 km suid van Harrismith, wes van die Sterkfonteindam. Roetes is moeilik begaanbaar in gure weersomstandighede. Ry asseblief versigtig. |
|