Die Oranjerivierkampe op die die plaas Doornbult, naby Hopetown is werklik die moeite werd om te besoek. Die eienaars Rina en Lemmer Wiid het die afgelope 10 jaar intense navorsing gedoen en op min ander plekke in die land speel die Anglo-Boereoorlog geskiedenis hom so duidelik soos hier af. Hier was ‘n enorme Britse kamp wat op een stadium by die 16000 Britse troepe gehuisves het, ‘n konsentrasiekamp (met begraafplaas), hospitale, forte, kanonstellings, ‘n blokhuis en vele meer.
Tydens ‘n staptog deur die veld ontvou die gebeure van meer as 100 jaar gelede hulself. Duisende artifakte wat uniformknope, blikke van alle soorte en vorms, pypstele, .303 rondte-doppies, stukkies porselein en drank-, Eno-, en ander medisynebottels waar die Britte se fort was lê rondgestrooi. By die konsentrasiekamp, tekens van tentvloere, geroeste potte, draadmandjies, kinderspeelgoedjies, nóg blikke, te veel om te noem het bykans ongestoord in die veld bly lê.
In die kliphuisie (ca 1880’s), het Rina van die kosbaarste en unieke oorblyfsels wat sy in die veld op die verskillende terreine opgetel het, uitgepak. Tesame met foto’s, dokumente en verklarende byskrifte is hierdie ‘n uiters interessante terreinmuseum en interpretasie sentrumpie.
Ander interessante besienswaardighede sluit in:
Die ongerepte konsentrasiekampbegraafplaas, met paadjies en al, net soos die vrouens dit destyds gepak het. Die nommers op die plaatjies was so te sê onsigbaar en is met groot moeite deur Rina uitgemaak. Danksy haar ywerige en deeglike navorsing kon sy bepaal wie in watter grafte begrawe lê en, baie belangrik, dat daar ook swartes saam met Boerekinders in dieselfde grafte begrawe is. Sover vasgestel kon word, is dit die enigste voorbeeld in die land waar die name van swartes wat in kampe dood is, bekend is. Sy het ook vasgestel dat daar meer mense hier dood is, as wat daar amptelik ‘getel’ is.
‘n Pragtige gerestoureerder blokhuis, kanonpaaie en –stellings, nog forte, krale en oorblysels van die ongeveer 16 000 Britse troepe wat hier vergader het om eindelik die Vrystaat binne te val.
Publikasies uit Rina se pen: Oranjerivierkampe, 1999; Die Doornbultkonsentrasiekamp, Oranjerivierstasie,2006 terwyl ‘n derde manuskrip, Oranjerivier: stasiemeester, pos-, telegraaf-, spoor- en Britse verkeer tydens die Anglo-Boereoorlog 1899 – 1902 pas in Engels vertaal is en Rina besig is met navorsing vir ‘n vierde boek oor hierdie terrein.
Kontakbesonderhede vir begeleide toere en oornagakkommodasie: Tel. 053-203-8105
Verwante Webwerf: www.oranjerivierkampe.co.za |