|
Die Erfenisstigting moet self sy eie bedryfsfondse genereer en ontvang geen subsidie daarvoor van die Staat nie. Dit het ook nie Art 18A-belastingstatus nie.
Daarbenewens was die Erfenisstigting bevoorreg om gedurende 2010 ’n bedrag van R3 miljoen in te samel vir die reddingsplan wat by die Nasionale Afrikaanse Letterkunde Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein geloods is en ten opsigte waarvan die Erfenisstigting as ’n diensverskaffer van die die Vrystaatse owerhede aangestel is vir die implementering van díe plan.
Die Erfenisstigting is vroeër vanjaar ook deur die SA Erfenishulpbronagentskap (SAEHA) aangestel om namens SAEHA om te sien na die herstel en onderhoud van en beheer oor alle konsentrasiekampbegraafplase, burgergrafte, krygsgevangenekampe en bepaalde slagvelde, waarvoor ’n bedrag van R750 000,00 vir die eerste jaar as projekfondse deur die Staat aan die Erfenisstigting toegedeel is.
Die Erfenisstigting beheer, en besit in die meeste gevalle, reeds verskeie afgeleë erfenisterreine landswyd, insluitende die Danie Theron Gedenksuil te Gatsrand (Gauteng), die konsentrasiekampbegraafplase te Mafikeng (NW Provinsie), Bloukrans (KZN), Doornbult-kampe by die Oranjerivierstasie (Noord-Kaap) en die Louis Tregardt Gedenktuin in Maputo. Verskeie ander sal waarskynlik in die nabye toekoms onder Die Erfenisstigting se beheer geplaas word.
Lede van die publiek wat die erns van erfenisbewaring besef, kan lede van die Erfenisstigting word.
Kliek hier om lid van die Erfenisstigting te word
|